Die eerste byeenkoms van 2025 (sien Nuusbrief 1 op die webblad) was ‘n dawerende sukses!
Uiteindelik, tot die verbasing van die Takbestuur, het 132 mense op Donderdag 3 April saamgetrek in die ou Klipkerk van die NG Kerk se Moedergemeente in Mosselbaai. Dit, ten spyte daarvan dat ons in die middel van KKNK-tyd is, en ten spyte daarvan dat meer as 70 van ons lede laat weet het dat hulle om die een of ander rede, en met groot spyt daarby, nie kon bywoon nie. Daar is gewis hernude belangstelling in die Outeniquatak van die Bond.
Ons het doodstil en met verwondering geluister na die wyse waarop Piet (“Stompie”) Duvenhage die uitdagings van sy daaglikse lewe hanteer, na die voordele wat die Bejaardesorgfonds landswyd aan afgetrede polisiebeamptes bied en na die jongste ondersteuning wat lede van AVBOB kan verwag. Lede het eerstehands gehoor van die uitdagings wat die Bejaardesorgfonds namens lede hanteer by die Regeringsdienspensioenfonds en Polmed, en het duidelik belang gestel in die ‘lewenslêer’- konsep van AVBOB.
Op sosiale gebied rapporteer ons met blydskap dat ‘n groepie dienende SAPD lede regoor die plaaslike Polisiedistrik ook kom kuier het. Ons is dankbaar vir die geleentheid om ons onderlinge verhoudinge te kan versterk, en sien uit na soortgelyke ‘saam-samekomste’ in die toekoms. Soos voorspel het Blackie Swart se optrede die voete laat jeuk, en kort voor lank het ‘n klompie waaghalsiges ge-‘langarm’ dat ons die ou vloerplanke kon hoor kraak. Blackie en Mienkie Vorster se Blou Kombuis het die smaaklike ete bedien en ons kan met eerlikheid rapporteer dat “a great time was had by all”. Ons het selfs fotos op rekord wat duidelik bewys dat Piet “Stompie” sonder hande beter skottelgoed kan was as die meeste manne wat ons ken …
Weereens, ons dank aan die Bejaardesorgfonds en AVBOB (wat ook ‘n beduidende bydrae tot die uitgawes rondom die byeenkoms gemaak het).
Maar die warmste dankie gaan aan ons lede wat ouderdom en allerhande ander uitdagings tromp-op geloop het om ‘n draai te kom maak. Die Takbestuur kon sien dit was vir hulle lekker, en daarvoor is ons dankbaar.
Tot ons weer ontmoet!