You are currently viewing Hoogtepunte van die Outeniquatak: Kuier, Potjiekos en Samehorigheid

Hoogtepunte van die Outeniquatak: Kuier, Potjiekos en Samehorigheid

Wat het die afgelope tyd binne die Outeniquatak van die Bond van Oud Polisiebeamptes gebeur?

Wat ‘n voorreg om terugvoering te gee oor die hoogtepunte van die afgelope paar maande.

Na ons suksesvolle golfdag, was dit weer tyd vir lekker saam kuier met ‘n heerlike braai op 26 Junie 2025 by Blanco NG Kerksaal, George.  Op ‘n lekker koue wintersdag en reën wat uitgesak het oor George, het ons meester braaiers vir ons onderdak heerlik vleis gebraai.  Die kaggelvuur het lekker in die kuier area gebrand waar daar tot laat middag gekuier is.  Ons het ‘n mooi opkoms van 120 lede gehad en is baie dankbaar.  Baie spesiaal was ook ons nuwe lede wat ons kon welkom heet.

Na die heerlike Blanco geleentheid het die Takbestuur onmiddellik begin beplan aan ‘n spanbou potjiekos kompetisie wat by Hartenbos Rolbalklub aangebied is op 19 September 2025.  Veertien (14) potte is gemaak deur lede van die Bond wat 125 gaste kos gegee het.  Die stalletjies was met soveel grasie en entoesiasme gebou met name wat jou ver laat terugdink, soos Toeka-tot-nou, Poldoedies, Karoopot, P&A Bosveldpot, Houtkappers, Die Kampeerders, Kerriepot, Hippiepot, Lekkerbekke, Kuierpot, Vossie se pot, Boerpot en Nietsie se pot.

Drie (3) baie bekwame beoordelaars, Antionette Botha, Dawie Kotze en Blackie Swart,  het baie hard gewerk om vir ons 3 wenners te kon aanwys:  1ste plek Boerpot met Riaan Botha as hoofkok,  2de plek Vossie se pot met Vossie as die kok en 3de plek Poldoedies met Mariaan Linde as hoofkok.

Blackie Swart het gesorg vir lewendige musiek en daar was sommer so op die stofpad gedans.  Marlene van der Hoven het ons almal verras deur op ‘n saag saam met Blackie ‘n nommertjie vir ons te doen.

Die terugvoer van ons lede wat lekker gekuier het, is dat die geleentheid elke jaar op ons kalender moet wees as ‘n staande aktiwiteit.  Ons sien uit na die volgende keer.

Ons jaarafsluiting is reeds in beplanning. ‘n Kerkafsluiting op 3 Desember 2025 in Blanco NG Kerk deur ons eie kapelane gelei.  Bejaardesorgfonds van Pretoria sal daarna in die kerksaal ‘n baie spesiale projek wat hulle geïdentifiseer het, nasionaal wil bekend stel en het dit goedgedink om die projek in samewerking met die Outeniquatak te loods.  Die doel van die projek is om in tyd van nood jou te kan help dat die nodige inligting beskikbaar is om nooddienste in staat te stel om vinnig en korrek op te tree gegewe jou mediese geskiedenis.  Dit is ‘n sleutelhouer waarin ‘n elektroniese skyfie geplaas word wat jou inligting met skandering kan verskaf waar nodig.  Ons is dankbaar en trots dat ons tak deel kan wees van hierdie baie spesiale projek.  Ons groet mekaar dan vir 2025 met ‘n heerlike aansit middagete.

Ons moes ook ons Vise-Voorsitter Chris Botha, en Tesourier Annalene Botha, groet.  Chris word alle sterkte toegewens met sy professionele loopbaan waarby hy tans nog baie aktief betrokke is.  Ons dank aan Annalene vir die professionele wyse waarop sy die Outeniquatak se finansies bestuur het, dit word opreg waardeer.

Ons bestuur is dan soos volg:

  • Voorsitter: Frans Linde
  • Vise Voorsitter: Gerrit Bruwer
  • Sekretaris: Mariaan Linde
  • Tesourier: Maretha Henning
  • Addisionele lede: Gert Coetzee, Jan Meyer en Kobus Kuyler
  • Pastorale sorg: Dawie Kotze
  • Funksie komitee: Ina Meyer, Leonie Coetzee en Dossie Bell

Die Takbestuur wens al sy lede ‘n geseënde laaste kwartaal van die jaar toe en wil graag ook ons dank uitspreek aan een-en-elkeen wat nuwe lede gewerf het en ons ondersteun het deur funksies by te woon.

Mooi loop
Takbestuur groete