You are currently viewing Wat Maak Die Ou Dieners Daar?

Wat Maak Die Ou Dieners Daar?

Wat maak afgetrede polisiemense wat in die Suid-Kaap woon?

Hulle sluit by die Bond van Oud-Polisiebeamptes se Outeniquatak aan, natuurlik.

Volgens Frans Linde, voorsitter van die Outeniquatak, het die Bond alreeds in November 1970 vorm gekry. Die senior bestuur van die voormalige Suid-Afrikaanse Polisie (die SAP, of “die Mag”) het tot die besef gekom dat oud-lede van die Mag baat sou vind by ‘n organisasie wat hulle kon ondersteun gedurende die laaste fase van hul lewens. Die behoud van veral onderlinge kameraadskap, harmonie, vriendskap, en hulpverlening asook die gemeenskaplikheid van die polisiekultuur het ‘n belangrike rol in hierdie besluit gespeel. Dit was verder belangrik om ‘n rol te speel in die sosiale belange van oud-lede, en ook om raad en ondersteuning te bied met aangeleenthede rondom pensioene en mediese voordele.

Die Bond is ‘n vrywillige en nie-winsgewende organisasie. Die hoogste gesagsliggaam is die Kongres wat uit al die takke van die Bond bestaan en elke twee jaar vergader. Die Kongres kies ‘n hoofbestuur wat verantwoordelik is daarvoor om die Kongres se opdragte en beslissings uit te voer. Die Grondwet van die Bond bind gevolglik die gedrag en optrede van die hoofbestuur, asook die takbesture.

Linde sê dat die Outeniquatak die area tussen Heidelberg en Plettenbergbaai dek, met Oudtshoorn as die noordelike grens. Hy word bygestaan deur ‘n vise-voorsitter, sekretaris, tesourier, 3 addisionele lede en ‘n assosiaatlid met regskundigheid. Die tak het tans 230 lede, en die ledetal groei daagliks.

Wie kwalifiseer vir lidmaatskap?  Enige oud-lid van die voormalige Suid-Afrikaanse Polisie, die voormalige Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie of van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (die SAPD) wat met pensioen afgetree het, ‘n vrywillige skeidingspakket geneem het, medies ongeskik uitgetree het of eervol bedank het en wat 5 jaar of meer diens voltooi het, is welkom by die Bond.  Reserviste van die voormalige SAP of die SAPD wat afgetree of eervol bedank het en minstens 10 jaar diens voltooi het word ook verwelkom. Die eggenoot/gade of lewensmaat van ‘n oud-lid, kwalifiseer ook vir lidmaatskap.

Op praktiese gebied staan Mariaan Linde, sekretaris van die tak, lede by met die voltooiing van alle relevante vorms van toepassing by die afsterwe van ‘n lid ten opsigte van pensioene (die Regeringsdienspensioenfonds) of die mediese fonds (Polmed).  Daar is ‘n skakel op die Tak se webtuiste wat presies verduidelik wat gedoen moet word.  Mariaan lê egter ‘n tuisbesoek af by die lid wat hulp benodig met die voltooiing van die vorms en staan die persoon  by totdat daar met sekerheid gesê kan word dat die aansoek volledig en reg is vir indiening. Sy lig lede ook in van die begrafnisvoordeel wat aan die pensioenfonds gekoppel is (dit is tans R20 000 voor belasting) en help met die aansoek daarvoor. Daar is dan twee maniere hoe indiening kan geskied:

  1. Indien die lid ook ‘n donateur is van die Bejaardesorgfonds van die Polisie, word indiening deur die kantoor van die Bejaardesorgfonds in Pretoria gedoen direk na die Pensioenfonds en Polmed. Die geval word deur hulle geregistreer en op ‘n gereelde basis deur die Bejaardesorgfonds kantoor opgevolg tot afhandeling van die geval en terugvoer word aan ons lede gegee;
  2. Waar ‘n lid nie ‘n donateur van die Bejaardesorgfonds is nie, word die lid ondersteun met die voltooiing van al die nodige vorms, maar die lid is dan self verantwoordelik om die dokumente in te dien en te monitor.

Die takbestuur het reeds 2 geleenthede beplan vir 2025.

Die eerste geleentheid van die jaar word op 3 April 2025 om 10:00 in die Klipkerksaal van die NG Moedergemeente, Mosselbaai, aangebied. By hierdie funksie gaan die bekende Piet (Stompie) Duvenhage optree. Piet is ‘n gestremde persoon wat sonder tong en voorarms gebore is, en was ook al ‘n gas op Rian van Heerden se program op KykNet. Gassprekers van die Bejaardesorgfonds en AVBOB se hoofkantore in Pretoria sal ook optree. Die dag word afgesluit met ‘n middagete en musiek deur Blackie Swart, ook ‘n lid van die Tak en steeds bekend vir “Liewe Lulu”. Blackie se Blou Kombuis in Kleinbrakrivier verskaf die ete. Nie-lede van die Bond kan ook hierdie funksie bywoon deur vir Mariaan Linde te skakel vir die bespreking (sien die kontakbesonderhede hieronder). Die koste is R50.00 per persoon.

‘n Eerste Golfdag word beplan vir 30 Mei 2025 by Mosselbaai Golfklub.  Wynie Strydom van Blou Bulle-faam sal die seremoniemeester wees en Blackie sal eweneens sorg vir die musiek. Die Takbestuur het ondersteuning ontvang van die bekende Stinger golfspan (“All South African Team in die Liv reeks”) van Louis Oosthuizen, Dean Burmester, Charl Schwartzel en Branden Grace. Die formaat is “2 Ball American Scramble” en daar is nog plek beskikbaar. Die kontakpersoon is eweneens Mariaan.

Die Outeniquatak van die Bond van Oud-Polisiebeamptes is beskikbaar by hul webtuiste (www.outeniquabop.co.za) en hul Facebook-blad (www.facebook.com/outeniquabop). Die sekretaris (Mariaan Linde) kan bereik word by 082 822 5697 en Frans Linde (voorsitter) by 082 788 9543.