You are currently viewing 2024 Afsluitingsboodskap

2024 Afsluitingsboodskap

Goeiedag Mede-Bondslede,

Wat ‘n geseënde dag het ons nie beleef met ons Kerk-/Jaareindafsluiting vir 2024 nie!

Bykans 80 Bondslede het in ‘n gesellige luim van vroeg-oggend tot laat-middag saam gekuier. Ek dink een van die hoogtepunte van die dag was toe ons staande die Bondslied geoefen het, en die trane van trots oor ons wange gerol het nadat ons eie Kapelaan, Ds Christo van Staden, vir ons ‘n pragtige Kersboodskap gebring het.

Om nog so een of twee hoogtepunte uit te sonder: die gesprek tussen Chris Botha en Erika Dykes oor die boek wat sy geskryf het met die titel “Die Waarheid lê in Niemandsland”; ook (‘n besondere oomblik vir ons as die Takbestuur) die besondere oomblik toe Mariaan ons nuwe webblad bekend gestel het – ons is trots op ons webblad en glo ons gaan deur die webblad (sien https://outeniquabop.co.za) baie toekomstige bondslede ontmoet; en daarby het ons ook ons nuwe Facebookblad bekend gestel (wat u kan vind op https://www.facebook.com/outeniquabop).

Dit was ook vir ons aangenaam om ons aktiwiteitskalender vir volgende jaar te bespreek en voorlopige datums is vir 4 byeenkomste in 2025 voorgestel (sien die “aktiwiteitskalender” op die webblad):

3 April : NG Moedergemeente Klipkerksaal Mosselbaai – Gassprekers Bejaardesorgfonds en AVBOB

3 Julie : Plek om bepaal te word

2 Oktober: NG Moedergemeente Klipkerksaal Mosselbaai– Gasspreker Testamente en Boedels

4 Desember: Plek om bepaal te word – Afsluiting

Ons was dan ook baie bevoorreg om lede van die Bond betrokke te kon maak met navorsing om vir ons ‘n golfdag, rolbaldag, skietoefening by ons plaaslike skietbaan, betrokkenheid by gedenkdienste (waar ons ons aandiens-gesneuwelde lede kan vereer) te ondersoek.  Ons kyk ook na die moontlikheid om ‘n geleentheid te skep waar ons gaskunstenaars kan nooi vir optrede met die doel om fondse in te samel.

Die dag was gekenmerk deur ‘n spontane kuier waar Bondslede in groepies kon gesels oor die lekker onthou-tye met ‘n ietsie in die hand.

Daar is altyd mense wat baie hard werk agter die skerms om so ‘n funksie ‘n sukses te maak en hier wil ek verwys na 5 ystervroue:  Mariaan Linde vir al die administrasie om ons Bond se data-integriteit in plek te kan sit; Annalene Botha wat beheer geneem het van ons finansies en dit professioneel hanteer; Ina Meyer en Leonie Coetzee wat met hulle vernuf en ondervinding beheer geneem het van al die reëlings met betrekking tot die aanbied van ons funksies; en Dossie (Bell) Kroucamp vir die versiering van ons saal en die blomme waarmee sy so mooi aan ons tafels kleur gegee het.

Ons as Takbestuur wens u een en almal ‘n geseënde Feestyd toe en sien uit na ‘n opwindende 2025.

Groete
Frans