Wat ‘n voorreg om ‘n paar baie belangrike geleenthede te deel met ons vriende van die Outeniquatak van die Bond van Oud Polisiebeamptes.
Ons eerste byeenkoms van die jaar wat gehou gaan word op Donderdag 3 April 2025. Ons kuier lekker saam vanaf 10:00 by die NG Moedergemeente Mosselbaai in die Klipkerk. Negentig van ons lede het reeds bevestig dat hulle die geleentheid gaan bywoon. Daarby verwag ons dat 25 dienende lede ook sal opdaag.
Die volgende aktiwiteite sal hierdie geleentheid baie spesiaal maak:
- Piet “Stompie” Duvenhage sal as motiveringspreker optree. Piet is ‘n gestremde wat sonder tong en voorarms gebore is en was ook al ‘n gas op Rian van Heerden se program op KykNet.
- Ons is ook bevoorreg om Annalene Oberholzer, Hoof Uitvoerende Beampte van die Polisie Bejaardesorgfonds (BSF) se kantoor in Pretoria te verwelkom as ‘n gasspreker. Annalene gaan met ons lede deel watter bystand die BSF kantoor vir ons lede kan bied en dan baie spesifiek met betrekking tot Pensioen en Polmed aangeleenthede.
- Benita Waldeck en Hendrien Christie van AVBOB sal ons lede inlig oor die belangrike lewenslêer.
- Ons is ook bevoorreg om van ons dienende lede in ons gebied te verwelkom om ook vir hulle gemoedsrus te gee dat hulle na aftrede nie alleen staan nie en dat die Bond vir hulle ‘n unieke geleentheid bied om nog steeds aktief betrokke te bly deur deel te wees van die Bond-familie.
Ons dag word afgesluit met ‘n heerlike saameet en -kuier met regstreekse musiek deur Blackie Swart, ook ‘n lid van die Outeniquatak, bekend vir “Liewe Lulu”. Blackie se Blou Kombuis in Kleinbrakrivier verskaf die ete.
Die volgende geleentheid waarna ons baie uitsien, is ons eerste Golfdag op 30 Mei 2025.
- Ons ontvang steun van ons baie gewilde golfspan, die bekende Stinger span “All South African Team in die Liv reeks” – Louis Oosthuizen, Dean Burmester, Charl Schwartzel en Brendon Grace. Dean skenk vir ons 4 golf pette geteken deur die span. Dean maak ook vir ons ‘n ondersteuningsvideo en sodra ons dit ontvang sal ons dit plaas.
- Ons seremoniemeester tydens die prysuitdeling is Wynie Strydom van die Blou Bulle-faam.
Ons wag tans op terugvoer met betrekking tot inskrywings en borge. Borge wat reeds positief gereageer het om putjies te borg is: Mosselbaai Nissan, Hartenbos Eiendomme, Maui & Britz Motorhomes, en Tax Dept Compliance.
Daar is ook borge wat skenkings maak wat ons kan opveil soos ATKV Hartenbos, Karoo Game van Beaufort-Wes, en Baakensrug Jagplaas ook van Beaufort-Wes. Sodra nog bekend raak, sal ons ook vir hulle erkenning gee.
Vir ons vriende wat ons wil ondersteun, hetsy as spelers of as borge, sien asseblief die aangehegte dokumentasie.
Daar is ook ‘n verandering op ons Takbestuur. Verna van Staden het as gevolg van werksdruk bedank en is vervang met Gerrit Bruwer. Welkom aan Gerrit in die span en jou positiewe bydrae wat reeds sigbaar is.
Welkom ook aan Dr Johann de Jager wat aangesluit het as assosiaat-lid. Johan bring sy kennis op regsgebied tafel toe wat vir ons baie beteken.
Ons as Takbestuur sien daarna uit om saam met ons lede 2025 onvergeetlik te maak en nooi oud-lede wat nog nie deel is van ons Outeniquatak nie uit om met ons kontak te maak.
Groete!
Takbestuur